Welkom terug

So ja, ons was siek.  Siek wees is nie iets wat ek geniet nie en gelukkig gebeur dit darem nie gereeld nie.  Ons almal, behalwe Elmi, was siek – het gevoel soos ’n tipe keelgriep.  Ongelooflike keelseer, maar met seer lyf en ongelooflike moegheid.  Dit gaan egter nou weer stukke beter en ons sal almal oorleef.

Met die siekte wat ons oorval het, was ons nou nie so aktief soos gewoontlik nie, maar ek het darem nuus.  Eintlik ongelooflike nuus as mens van fotografie hou.  Ek het so ’n paar lewensdrome gehad – die meeste is al verwesenlik en na gister is daar ’n reuse een van my lysie af.  Al wat nog oorbly is ’n blou Defendertjie terwyl ons in Engeland bly.

Cobus het gister vir my ’n Leica kamera gekoop.  Ek kan dit nou nog nie behoorlik glo nie.  Die ding van Leica is dat dit nie slegs ’n kamera is nie, maar ’n nuwe manier van fotografeer.  Eintlik is dit soos ’n nuwe foto-leefstyl.  As mens saam met ’n Canon 5D met sware lense geleef het, is die ligtheid van die Leica die tweede ding wat mens opval – die eerste natuurlik sy eenvoudige skoonheid.

DSCF1950.jpg

My Canon was altyd die liefde van my lewe en ek was van die eerste foto af beïndruk met die kamera en met my eie vernuf.  Die 5D is ’n ongelooflike masjien en tot baie instaat en met die regte lens op, voel dit vir my, is daar niks wat ek nie kan afneem nie.

Nou waarom sal ek dan droom oor ’n nuwe kamera? Dan nog een wat nie auto-fokus het of naastenby die ondersteuning bied van die 5D nie.  Verder gaan ek van voor af moet leer hoe om foto’s te neem, want alles is manual en ek moet die kamera van vooraf leer ken en verstaan. My teenvraag sal wees – bestaan daar ’n fotograaf wat nie oor ’n Leica droom nie.  Die Leica is soos die Landrover Defender.  Hy inspireer jou om foto’s te neem nes die Defender jou inspireer om op ’n avontuur te gaan.  Om alleen die Leica vas te hou, voel jy al of jy die wêreld kan verower.

Ek het ’n nuwe projek aan myself opgelê en dit is om te probeer om die hondepark en sy honde vas te vang.  Hier is ’n paar foto’s met my nuwe kamera en my eerste dag op die projek.

Hier is die park/veldjie – belangrik om te onthou is dat jy jou hond se poef optel.

L1000141.jpg

Daai Jack Russeltjie wat daar harloop, gee my altyd ’n knop in die keel.

L1000190

Een honden feestje!

L1000194

L1000212

Hier is Loes – een van Dobby se beste maatjies.  Sy is ’n Labradoodle – dit is ’n kruis tussen ’n Labrador en ’n Poodle.

L1000246

Dit is Loes se baasje – sy het lekkernye in haar sak en daar is net een hond met maniere…

L1000254

Mense dink altyd dit is net ek wat foto’s neem in ons huis.  Cobus neem ook pragtige foto’s.  Hier is ek en my nuwe kamera. Buiten vir die pragtige kamera en hond – wil ek ook julle aandag op my beeldskone jas vestig.

DSCF1954.JPG

Ook een van Cobus se foto’s.  Sal darem lekker wees om Europa in hom te toer…

DSCF1971.jpg

 

 

 

4 gedachtes over “Welkom terug

  1. Lekker groot parkie en interessante honde. Dobbie natuurlik die mooiste en soos jy sê enigste met maniere! Die vrou met die tan boots het die presiese jas wat ek eendag vir my gaan aanskaf. Net jammer ek het nie genoeg plekke om dit na toe aan te trek nie – net na die Greyton Classics! 😢

    Like

  2. Baie geluk met Leica! Sy is voorwaar ’n besonderse skoonheid.

    En geluk met Dobby se goeie maniere. En met sy goeie hare. Hy kan in sjampoe-advertensies speel. Ek sien dit al: al-wapperend by die bult af tot in ’n rivier, en dan skud hy in slow motion droog. 😉

    Like

Plaats een reactie